Die dag toe liefde my 'n les leer…
- Nicola Meyer
- Jan 31, 2019
- 6 min read
Updated: Dec 8, 2020
‘n Mens beweeg of voorentoe, of agtertoe – anders staan jy stil. As jy agtertoe beweeg, is jy vasgevang in die verlede en dan lewe jy nie. So al wat jy kan doen, is om voorentoe te beweeg – maak nie saak hoe hard of moeilik dit is nie. Ek kan nie presies onthou, wanneer alles verkeerd gegaan het nie, maar wat ek wel kan onthou, is hoe ondraaglik hierdie proses was. Hoe bitter hartseer en swaar dit was. Ek wonder soms, wat was die doel van die pad en wanneer gaan ek dit verstaan? Gaan ek dit ooit verstaan?
Dis maklik om verlief te raak en om ‘n nuwe padjie te begin stap. Hoe lekker en opwindend was dit nie - 'n lewenspad met 'n lewensmaat. Dan kom mens by grondpadjies... Grondpadjies is ook lekker. Want as jy liefde ervaar, stap jy stadiger. Jy aanskou die mooi natuur met al sy prag en as jy gelukkig is, pluk hy vir jou ‘n blom af en sit dit agter jou oor. Maar as julle kwaad is, jaag julle - elkeen in sy eie rigting. Jy sien nie die mooi raak nie en jy waardeer nie die blom nie. Soos alle dinge maar tog tot 'n einde kom, kom die grondpad van ons ook tot 'n einde. Dis hier waar alles verkeerd gaan en die nagevolge was hartsverskeurend. Dit is nie ‘n gevoel wat jy kan beskryf nie, jy kan dit net beleef.
Vir mense wat lief is vir verslaafdes, is dit siels vernietiging. Die manipulasie, die teleurstelling, die skuldgevoelens en die skade… Jarelange, siels vernietigende skade! Dis soos om ‘n geliefde aan die dood af te staan - een van die ingrypendste dinge wat met 'n mens kan gebeur. Die dood van 'n mooi verlede, van 'n persoon wat jy eens geken het en lief gehad het... daai persoon is dood. ‘n Mens besef ook met tyd (gewoonlik wanneer dit te laat is), dat jou liefde vir die persoon en jou behoefte om hulle veilig deur hierdie probleem te bring, sal jou vernietig – jy sal nooit weer dieselfde persoon wees nie. Jy verloor geliefdes. Familie en vriende wat jou na aan die hart gelê het, is vandag soos vreemdelinge op straat. Jy sal begin verskoonings uitdink en lieg om die verslaafde te beskerm, of probeer jy eintlik jouself beskerm? Ek weet nie, maar jok bly verkeerd. Om nie eens te praat van die slapelose nagte en koue sweete; elke keer as jy middernag ‘n oproep kry nie. Die baklei en verwyte is vieslik. Jy leer die lelike kant van liefde ken. Jou finansies is ‘n nagmerie. Gewoonlik begin jy met huishoudelike goed wat verdwyn en dan kom die groter skade. By my was dit anders om. Eers verloor ons die karre, toe die huis en toe huishoudelike goed; vier (duur) TV’s, 2 yskaste, ‘n deep freezer, sitkamer banke, juwele en kameras. Ek weet ek moet dankbaar wees, vir wat weet ek nog nie. Dankie vir die fokken grassnyer wat jy gelos het?
Om tyd saam te spandeer en ‘n huis te deel is soos 'n tronk vonnis. Was dit om seker te maak die ander persoon is ok, of om te keer dat daar nie nog iets verdwyn nie? Jy hou dalk op om van hulle te hou, maar jy hou nie op om hulle lief te hê nie, want dit is wat geliefdes doen – hulle is daar vir mekaar deur dik en dun, dan nie? Jy begin elke dag op jou knieë en jy eindig elke dag op jou knieë, want jy bid en jy hoop. Jy is geduldig, jy wag vir antwoorde van bo en jy bid; elke Godse dag. Jy bid dat die waansingheid moet end kry, dat die skuldgevoelens moet weggaan, vir die manipulasie om end te kry. Jy bid vir die alewige leuns om op te hou, dat die onsekerheid jou nie mal maak nie en vir die pyn om te vedwyn. Jy bid - nie omdat hulle nie wil ophou nie, maar omdat hulle nie kan ophou nie. Elke dag begin jy met nuwe hoop. Hoop vir beterskap en drome van 'n beter toekoms.
As jy lief is vir 'n verslaafde, is dit 'n mergelende pad wat voor jou lê, tot jy tot die beseffing kom dat daar absoluut niks is, wat jy aan dit kan doen nie. Aan die einde van die pad, is jy uitgeput - met 'n paar ekstra grys hare en plooie. Volgens my haarkapster en goeie vriendin, is die grys hare glo geneties - ek besluit nog of ek haar wil glo... Jy bly in 'n wêreld van verwerping en seerkry. Jou hart is in 'n miljoen stukkies gebreek en emotioneel is jy gedreineer. Daar bly letterlik niks meer van jou oor nie. Die verslaafde se selfvernietigende optrede, verander jou in elke moontlike opsig; emotioneel,fisies en psigies. Jou verhouding en die wêreld rondom jou vergaan, stukkie vir stukkie. En wanneer daar net 'n klein krummeltjie oorbly, dan besef jy uit die donkerste, diepste en reinste plek in jou hart, dat jy nie meer so kan lewe nie. Die soort pyn is nie lewe nie en daar is ook geen hoop aan die einde van die grondpad nie.
Ek sou jok as ek sê my deernis is onaangeraak. Dit is. Dis uitgeput en kaal gestroop. Ek voel gedurig asof daar niks meer oor is om te gee nie. Ek wonder soms of daar ooit weer iets sal wees om vir enige iemand te kan gee? Ek hoop darm so, want tog is daar twee pragtige kinders, wat meer verdien. Vir wie ek harder moet baklei, vir wie ek moet opstaan en probeer beskerm teen die kollaterale skade wat veroosaak is. Hulle verdien die beste moontlike weergawe van my – die een wat vol hoop en drome is en in liefde glo.
Ek was baie kwaad, hartseer, verraai, teleurgesteld met nog ‘n klomp ander emosies ook. Al wat uit my mond gekom het was: "Hoe kon jy?" Ek het lank geworstel en aangeneem 'n verbitterde toekoms lê vir my voor. Hoe herstel ‘n mens van so iets? Hoe sien jy weer die mooi in alles? Hoe verwerk jy so iets? Ek het 'n geliefde aan veslawing verloor en ek moes 'n hartsvriendin aan die dood afstaan. Dit was 'n geweldige hartseer en 'n besonderse moeilike jaar. Die rou proses voel ook soos ‘n ewigheid, amper soos ‘n leeftyd op sy eie.
Dis toe wat 'n wonderwerk gebeur het. Die Here het mense oor my pad gestuur, wat die bitter weg gevat het en die pyn ligter gemaak het. Wat die lewe weer kleurvol gemaak het. Ek het besef dat ek geseën is met goeie mense in my lewe – hiervoor sal ek ewig dankbaar wees. Ek grawe toe een laaste keer, in die diepste, donkerste en reinste hoeke van my hart en dis hier waar ek die mooiste lig ontdek het – vergifnis. Hiermee het ek lank geworstel en dit het lank gevat om te besef presies wat ek moet doen. Om te vergewe, beteken om ‘n oortreding te verskoon – om dit te laat vaar. Dat tenspyte van die oortreding en sy nagevolge, onselfsugtige liefde die grondslag is vir ware vergifnis, want liefde “hou nie boek van die kwaad nie”.-1 Korintiërs 13:4, 5.
Ek besef dat niemand van voorneme is om 'n verslawing te ontwikkel nie. Dat die skuldgevoelens, die skande en die magtelooshied, oorweldigend is. Dat verslawing nie 'n siekte van karakter, persoonlikheid, gees of omstandighede is nie. Dit kan met enige iemand gebeur. Dis 'n menslike toestand met menslike nagevolge en dat dit ons kwesbaar los. Dit het my tot die gevolgtrekking gebring, dat as jy nie al in dieselfde bootjie was nie, as jy nie in dieselfde oorlog was nie, as jy nie self baklei het tot oorlewing en tot jou knieë gebring is nie, het nie ek of jy die reg om te oordeel nie.
As ek terug kyk op die laaste jaar, sou ek nooit kon dink dat ek vandag op ‘n beter plek is nie. Ek is aan die einde van my donker tonnel en al wat ek kan sien, is die mooiste lig. Ek is sterker en gelukkiger as ooit te vore en opgewonde oor wat die toekoms inhou. Daar is nog moeilike dae en ‘n hele paar struikelblokke, maar dis ok. Ek weet ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.
Ek sal my nooit kan indink waardeur jy gaan nie, maar ek weet jy is in ‘n baie donker en alleen plek. Ek hoop jy weet, daar gaan nie ‘n dag verby wat ek nie vir jou ook bid nie en ek sal altyd hoop, dat jy eendag op ‘n beter plek is.




Comments